This blog post is in Afrikaans.


Ek weet hoe dit voel om ‘n nuwe besigheid te begin. Jy sit jou hart en jou ure in iets wat jy liefhet, en dan wag jy. Sal iemand dit raaksien? Om ‘n nuwe jaarn handelsmerk in Suid Afrika te vestig is nie maklik nie. Daar is baie stemme, baie gevestigde name, en as jy nuut is, verdwyn jy maklik tussen al die geraas. Daarom wil ek iemand aan julle voorstel. Marishia van Woestyn-Kind kleur jaarn op ‘n plot net buite Pretoria. Sy is redelik nuut in die mark en nog nie baie bekend nie, maar haar passie is aansteeklik. Ek het vir haar ‘n paar vrae gestuur, en hier is haar storie in haar eie woorde.

Hilda


Vertel ons bietjie van jouself. Wie is die mens agter die handelsnaam, en waar in die land woon en werk jy?

Hierdie vraag is soms so eenvoudig en tog so moeilik om te antwoord, want ons is geneig om ons “brand” te koppel aan ons self, ons vergeet wie ons was voor die besigheid of “brand”. My naam is Marishia, buiten hekel en wol kleur is ek “loud”, lag uit my maag uit, dra ongelooflik baie juwele (ja, hangertjies, oorbelle, armbande, ringe), geniet dit om alles self te probeer maak soos brood bak, beskuit bak, lyf produkte en soveel meer. Kreatief is in my bloed nes ek dink my bloed moet ongelooflik kleurvol wees. Ek woon op n plot amper buite Pretoria en ek is n voltydse Boekhouer – wie sou nou kon raai neh.


Hoe het jy by die kleur van jaarn uitgekom? Was daar ‘n oomblik waarop jy geweet het: dít is wat ek wil doen?

Ek is een van daardie mense as ek nie iets kry wat ek soek nie, dan maak ek dit myself en in die geval kleur ek dit myself. Ek hekel al vandat ek 19 jaar oud is en het net nooit die regte kleur vir my projekte gevind nie, ek is nie n “fan” van net soliede kleure nie en ek dink soms is mense bang vir kleur. So in 2022 het ek die idee gekry om ombre katoen jaarn te kleur – mens kry nogal baie inspirasie as mens by ander “indie dyers” kuier en ek was op daar stadium soos “furniture” in Anna Patat se winkel, ons het op n plaas net buite Parys gewoon daardie jaar, ek het ook my eerste ombre shawl gehekel met yellow cottage se katoen. So die gogga het vir my omtrent gebyt wat kleur aan betref. In dieselfde jaar het n klient my gekontak en was toe opsoek na verskillende kleure op een “skein” en met dit het ek verlief geraak met “two tone” jaarn asook verskeie kleure op een “skein”. My oomblik het tussen 2023/2024 gekom om te fokus net op jaarn, ek het redelik baie goed gedoen van 2013 tot 2023/2024 …


    Wat is die storie agter jou handelsnaam?

      Woestyn-Kind was eers Lippies, ek wou in 2013 net “lip balms” maak, want weereens het ek nie die regte “consistency” produk gekry nie. Vandaar af het ek gespeel met lyf produkte tot ek in 2015 op Duin 7 in Namibie gesit het (ja ek het daardie duin geklim tot bo en was byna “dood” toe ek na wat gevoel het soos maande se klim bo gekom het) na al my armbande op my arm gekyk het en my voete in die sand en net daar begin speel met n nuwe besigheids naam, want die prentjie wat ek op daardie oomblik in my kop gehad het was vryheid en daar is nie reels vir kreatiwiteit nie. My pa kom van Namibie af en daardie wereld le my ongelooflik na aan die hart, ek het steeds familie daar en wens soms ek kan daardie deel van die wereld huis noem, mens kan net droom.


      Waar kry jy inspirasie vir jou kleurkombinasies?

      Die feit dat ek is so kleurvol is en my kop altyd vol idees is, kry ek orals inspirasie van af, ek probeer soveel moontlik “whimsy” soek, ek neem natuurlik ook ongelooflik baie foto’s van iets wat vir iemand anders “random” sal wees en dan natuurlik Pinterest, ek soek graag daar idees en probeer dan kleur kombinasies op my eie. Soms kom die kleure net van self en laat ek toe om die water en jaarn oor te neem.


      Watter kleurkombinasie is tot dusver jou gunsteling, en wat is die storie daaragter?

        Hierdie is n effense uitdagende vraag, want ek het nie sommer n gunsteling nie. Ek probeer graag alle kleure om dan n opinie te vorm, ek weet wel ek is nie mal oor swart of bruin nie, maar kan soms n diep rooiwyn kleur geniet of donker groen. Ek voel kleure moet hul eie stories vertel, mense moet vertel hoe n kleur hul laat voel en wat dit op daardie dag beteken het. Ek dink nie ons moet ons ooit bind aan net een kleur nie.


        Hoe lyk ‘n gewone kleurdag by jou, van die eerste koppie koffie tot die laaste string wat droog hang?

          Hierdie gebeur as ek n mark het, dan wil ek alles op nommer 99 doen (ha-ha), ek spot sommer, maar ons lewe is n gejaag. Juis oor beide ek en my verloofde voltyds werk, moet ek maar tyd maak deur alles. Ja, ek en my verloofde is die span agter Woestyn-Kind. Hy maak skeins, ek kleur en dan maak hy dit netjies sodat ek dit kan hang wanneer ek dit gedraai het tot in daardie lieflike figuur 8 wat ons almal ken (lyk vir my so). Dit vat natuurlik ongelooflike beplanning, want om 30kg se katoen te kleur is soms die grootste uitdaging as om te besluit wat ons moet eet vir die week.


          Watter soort jaarn kleur jy, en hoekom het jy juis dié gekies?

            Katoen, DK en natuurlik n “lace weight”. Ek wik en weeg nog of ek die “chunky” kant van katoen moet aan pak. Katoen verdien ook de “spotlight” soos merino en het jy al die kombinasie van katoen en merino gevoel? Luuks op n ander vlak! Ek dink mense het n wanpersepsie van katoen en dat daar ongelooflik baie stigmas is oor katoen.


            Watter kleur sal ons nooit in jou winkel sien nie?

              Daar is nie so iets nie, juis oor dit “indie dyed” is kan ek nie se dat daar nooit n kleur sal wees nie, swart is moeilik om te doen as ek moet kleur, dit lyk altyd soos charcoal vir my. Vir solank as wat ek kantoen kleur sal dit altyd lyk soos “indie dye”. Ek dink mense geniet die verskillende kleure, dit maak daardie kreatiewe oog oop.


              Wat het jou die meeste verras sedert jy begin het?

                Hoe ek skielik net geweet het dat dit is wat ek wil doen tot my hande en liggaam nie meer wil nie, Dat ek nie n fabriek wil he om te kleur nie, maar tog eendag vrouens he wat ook vir my kleure en hul eie inspirasies op die kleur tafel kan toepas. Nooit gedink ek sou lyf produkte op gee vir wol nie.


                Wat was tot dusver jou grootste uitdaging, en hoe het jy dit oorkom?

                  Om uit my eie kop te klim en nie te kleur wat EK wil nie en oop te wees vir die “boring solids” (ha-ha). Natuurlik ook te leer dat sekere goed nie vir almal is nie en dat niks persoonliks op geneem moet word nie. Ek het ook geleer om my uniekheid te “embrace” en om net voluit te gaan. Ek dink nie mens oorkom alle uitdagings nie, dit is n proses en solank as wat mens leer dink ek het mens reeds gewen.


                  Waarop is jy die trotsste?

                    Dat ek n besigheid begin het, nie op gegee het nie en nie laat my pa se woorde my onder laat kry het dat hy vir my gese het my besigheidjie sal maar net n hobby bly nie.


                    Brei of hekel jy self? Waaraan werk jy op die oomblik?

                      Ek hekel, daar is soveel projekte, maar die 2 wat my volle aandag het is my granny square vest (ek het my katoen gebruik om dit te maak in verskillende kleure) en dan n cardigan ook in my eie katoen.


                      Waarvan droom jy vir jou besigheid oor vyf jaar?

                        Dat Woestyn-Kind se katoen in internasionale wol winkels kan hang en dat mense in die hele Afrika katoen ook gebruik soos hulle merino en akriel gebruik (hulle mag dalk alreeds), dat mense nie meer skrikkerig is vir katoen nie en dat ek n verskil al gemaak het in die “education” van katoen sodat mense dit beter kan verstaan nes hulle merino wol geniet en verstaan.


                        Watter raad sal jy gee vir iemand wat self wil begin jaarn kleur?

                          Almal se altyd, begin net. Ek gaan vir jou se besluit watse jaarn wil jy kleur, want dit maak n groot verskil. Merino, Akriel en katoen is GLAD NIE dieselfde nie en verg soms meer navorsing want die vesels “vat nie” altyd soos JY dink dit doen nie, maar moet asb NIE na al die geraas luister nie en doen wat jy voel vir jou gaan werk en vertrou jouself.


                          Is daar ‘n patroon wat jy graag in jou jaarn gebrei of gehekel wil sien?

                            Nee, ek wil net sien mense hekel/brei daarmee en geniet die kleurvolheid wat dit bied.


                            Waar kan ons jou volg en jou garing koop?

                              Orals op social media. Ons werk nog aan die website (hopelik is dit reg teen Januarie 2027), maar vir nou kan hulle my Whatsapp en so n bestelling plaas of by n mark (ek stal gereeld uit).


                              Ek het nog nie self met Woestyn-Kind se jaarn gewerk nie. Hierdie is dus nie ‘n aanbeveling nie, maar ‘n voorstelling. Ek gee ‘n nuwe stem ‘n plek om haar storie te vertel. Gesels met haar, vra jou vrae, en besluit self. En as jy by haar koop, laat weet haar hoe dit gegaan het. So help ons mekaar groei in hierdie wêreld.

                              Hilda

                              2 Comments

                              1. Ek us mal oor jou kleur kombinasies. Jy is beslis n inspirasie vir enigiemand wat sy of haar eie ding wil doen. Hou aan jy maak beslus n verskil is enige crafter se lewe.

                              Leave a Reply

                              Your email address will not be published. Required fields are marked *

                              This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.