
Gebruik ‘n mesgreep. Rek die lus op jou hekelpen uit tot die lengte van ‘n langbeenry. Plaas jou vinger bo-op die kop van die steek en hou dit styf teen die pen vas. Moenie laat glip nie.

Swaai jou hekelpen na jou toe, en dan onderdeur die uitgerekte steek, terug na die beginposisie, om sodoende met die steek se uitgerekte bene ‘n ekstra draad op die pen te sit. Die twee draadjies van die bene tel as een. Hou die steek vas!

Hou die steek op die pen vas en steek jou hekelpen in die EERSTE steek van die ry en trek ‘n lus op.

Dis wat jy nou op jou pen het; moenie laat glip nie, hou vas.

Slaan die draad oor die pen. Trek deur die voorste lus en glip die pen agter die gedraaide steek verby wat jy vashou. Nou kan jy laat los.

Slaan draad oor pen en trek deur twee. Jou gedraaide langbeen is nou klaar.

In die begin is dit goed om ‘n steekmerker dadelik in die V van die steek te plaas. Die V val effens na agter enaanvanklik gaan jy dalk sukkel om hom te vind as jy met die volgende ry terugkom.